Die wetsontwerp beoog om die tradisionele beheer en besit van mineraalregte wat in die staat gesetel is, uit te brei. Voortaan sal nie alleen goud en edelmetale, edelgesteentes, aardgasse
en aardolies aan die staat behoort nie, maar ook alle minerale wat kommersieel ontgin kan word, insluit byvoorbeeld klei, gruis, sand en klip.
Die wetsontwerp maak ook voorsiening ooreenkomstig die voorskrifte van die Grondwet vir die onteiening van oppervlakteregte – indien dit noodsaaklik is vir die ontginning van minerale.
Impak op die boer
Ingevolge die tans geldende mynbouwetgewing waar geprospekteer en gemyn is op ‘n boer se plaas, het onderhandelinge vir oppervlakte-gebruik kontraktueel tussen die houer van die prospekteer-
en mynpermit en die betrokke boer plaasgevind. Die boer is óf vir die stuk grond vergoed óf ‘n tantieme is aan hom betaal. In gevalle waar mineraalregte aan die boer behoort het, kon hy dit
self ontgin of die betrokke mineraal vir sy eie sak aan ‘n derde party verkoop.
Indien die wetsontwerp wet sou word, beteken dit dat die boer in die toekoms geen mineraal draende grond vir eie gebruik op sy plaas mag benut nie.
Tot nou toe kon die boer byvoorbeeld die sand, klip en gruis wat op sy plaas voorkom, gebruik het tot voordeel van sy persoonlike en boerdery-aktiwiteite, soos die maak van stene, bou van
damme en keerwalle of die maak van paaie. In die toekoms sal die boer eers ‘n mynboupermit van die staat moet verkry om dit te mag doen. Die benuttingswaarde van die mineraalwaarde op ‘n boer
se plaas met die oog op die aanwending daarvan vir landbouverbeterings sal dus tot ‘n onmiddellike stilstand geruk word.
Die staat beoog dus om ‘n wet op die wetboek te plaas wat, indien dit tot op die letter toegepas moet word, ‘n grootskaalse polisiëringsaksie op boere se plaasverbteringsaktiwiteite gaan
noodsaak. Verder sal die boer sy kontraktuele vryheid ontneem word indien die staat ‘n mynpermit ten opsigte van ‘n mineraal op sy grond uitreik. Indien ‘n myninstansie sou besluit dat
oppervlakregte benodig word vir sy mynbedrywighede, kan die myner die staat versoek om die oppervlakteregte te onteien.
Vergoeding
Dit blyk asof die wetsontwerp geen voorsiening maak vir die betaling van vergoeding ten opsigte van daardie mineraalregte wat nie voorheen in die staat gesetel het nie, maar dat vergoeding
slegs sal plaasvind om die gebruiksreg van die oppervlak op aandrang van die mynreghouer te bekom, ten einde mynregte uit te oefen.
In die algemeen word die standpunt in sekere regskringe en die landbou gehuldig dat die ontneming van daardie mineraalregte wat nie voorheen in die staat gesetel was nie, neerkom op onteiening
sonder vergoeding binne die bedoeling van die eiendomsbeskermingsbepaling van die Grondwet.
Dit is ook nie duidelik in die wetsontwerp of die staat vergoeding aan die boer sal betaal vir die tantiemes wat hy ontvang wanneer die tantiemebetaling ingevolge die wetsontwerp op die staat
oorgaan nie. Omdat die mineraalreg onmiddellik by die inwerkingtreding van die wet in die staat sal vestig, sal dit egter dadelik ‘n invloed op die bate- en lastestaat van die boer hê wat sy
mineraalregte as sekuriteit gebruik asook op die waarde van sy grond- en mineraalbates in die ope mark.
Indien hierdie punt nie nou in die Grondwetlike Hof beveg word nie, gaan dit beteken dat boere stilswyend van ‘n substansiële bate ontneem gaan word sonder dat ‘n vinger verroer sal kan word
om die staat te dwing om op die datum van inwerkingtreding van hierdie wetsontwerp, die totale batewaarde van die betrokke minerale soos teen die titelaktes van hulle grond aangeteken, in
vergoeding uit te betaal.
In effek kom dit daarop neer dat die wetgewer daarin sal slaag om artikel 25 van die Grondwet wat onder andere bepaal dat eiendom slegs onteien mag word onderworpe aan vergoeding, effektief te
omseil.
Langtermyn-beplanning
Die beoogde minerale wet kan ook die langtermynbeplanning van landbouaktwiteite op ‘n boer se plaas aansienlik bemoeilik.
Wanneer die staat sou besluit dat mynbouaktiwiteite op ‘n stuk grond op ‘n boer se plaas toegelaat gaan word, is dit die begin van ‘n uitgerekte administratiewe proses waar die boer
grotendeels uitgesluit sal word aan deelname en besluitneming oor aktiwiteite wat noodwendig ‘n impak op sy boerderybestuur en grondbenuttingsaktiwiteite gaan uitoefen.
Beplanning vir die uitbreiding en ontwikkeling van byvoorbeeld besproeiingsgebiede, wildsplase en gewasontwikkeling sal onmoontlik wees onder sulke omstandighede. So ook die ontwikkeling van
noodsaaklike infrastruktuur op die plaas indien die boer self toegevoegde waarde tot sy produkte will voeg.
Dit sal ook vir die boer moeilik wees om kort- en langtermyn finansiële beplanning te doen omrede daar onsekerheid bestaan oor die vergoedingsformule wat deur die Staat in gevalle van
onteiening toegepas sal word.
Beheer oor toegang
Die wetsontwerp swyg oor die beginsel van toegangsregte tot grond vir doeleindes van prospektering en die myn van minerale. Dit blyk asof die grondeienaar se eiendomsreg ondergeskik gestel
word aan die staat se regtehouer wat prospekteer- en mynregte gaan uitoefen. Kontrole deur die boer ten opsigte van betreding op sy grond word grootliks uit sy hande geneem wat die
veiligiheidsituasie nadelig sal raak.
Dit kan verwag word dat mynaktiwiteite ook arbeidsmeelopers op plaasgrond gaan meebring. Die grondeisehof het reeds aan diesulkes verblyfregte toegeken en dit kan as ‘n gegewe aanvaar word dat
as boere nie wakker loop nie, die werknemers gratis permanente verblyf op sy plaas kan verkry omdat slegs die mynpermithouer oënskynlik aansoek kan doen vir onteiening van geaffekteerde grond,
maar nie die eienaar self nie.
Omgewingsimpak
Die wetsontwerp vereis dat skriftelike waarborge gelewer word vir omgewingsherstel nadat mynbouaktiwiteite afgehandel is. Heelwaarskynlik sal die groter mynboumaatskappye by die skriftelike
waarborge kan hou, maar dit word betwyfel of die kleiner nuwe toetreders tot die mynbedryf hierdie vereistes gestand sal kan doen. Boonop hou die staat die boer aanspreeklik vir die betaling
van ‘n gedeelte van die oppervlakherstelkostes indien die houer van die mynregte versuim om die oppervlakte na bemyning te herstel.
Dit sou meer effektief gewees het om teen ‘n vaste koers ‘n deel van die winste te eis en in trust te hou waaruit rehabilitasie gefinansier kan word of om vooraf ‘n bedrag geld te eis wat vir
die doel as waarborg kan dien.
Aan die hand van die wetsontwerp sal die boer in die toekoms ook nie meer ‘n sê hê indien optimale landbougrond op sy plaas op besluit van die staat, aangewend word vir mynbou-aktiwiteite nie.
Volgens bestaande wetgewing gaan die reg tot prospektering en ontginning van grond die reg tot landbouaktiwiteite voor.
Ontwikkelingsimpak
Die Wet op Ontwikkelingsfasilitering van 1996 is veronderstel om toe te sien dat alle ontwikkeling op ‘n geordende grondslag plaasvind. Die toepassingsvereistes van hierdie wet is grootliks in
die hande van die gemeenskap. Die praktyk wys egter dat weinig gedoen word om ‘n deurlopende toepassing van hierdie wet te verseker.
Daar is byvoorbeeld geen vereiste dat mynbeplanning en ontwikkeling aan die vereistes van die Wet op Ontwikkelingsfasilitering moet voldoen nie. Die gevolg is dat mineraalontginning vanuit ‘n
beplanningsoogpunt die gevaar loop om in die toekoms op ‘n lukraak wyse plaas te vind.
Finansiële bemagtiging
Afgesien van die beginsel van bemagtiging wat in die Grondwet gestel word, is een van die hoofoogmerke van die minerale ontwikkeling wetsontwerp om toegang tot mynbou aan agtergeblewenes te
verseker. Daar is egter geen sprake in hierdie wetsontwerp om agtergeblewenes gelyktydig ook finansieel te bemagtig ten einde te verseker dat die regte wat hulle uitoefen suksesvol gedoen sal
kan word nie. Dit kan weer eens tot gevolg hê – soos in baie gevalle met die regering se grondbeleid – dat armoede-lokvalle op ekonomies benutbare landbougrond geskep kan word.
Met die voorafgaande uiteensetting van enkele van die moontlike implikasies wat die beoogde wet op ‘n boerdery kan uitoefen, sal dit raadsaam wees as die boer homself vergewis van die inhoud
van die voorgestelde wet.